Boodskap / Preek oor: Selfbeheersing

SELFBEHEERSING BOODSKAP​​​​​

INLEIDING:

HET ONS? & HOEKOM HET ONS SELFBEHEERSING NODIG?

Die Bybel sê in Spreuke 25:28 AFR83  

“‘n Stad sonder ‘n muur om hom te beskerm, so weerloos is ‘n mens as hy nie selfbeheersing het nie.”

Selfbeheersing is nie ‘n tronkmuur wat jou vasgevang hou nie; dit is ‘n verdedigingsmuur wat jou veilig hou.

As ons sukkel met selfbeheersing, is dit eintlik n geestelike rooi lig wat flikker om te wys dat daar in ons binneste êrens uit lyn uit is.

Ons gaan vandag praat oor wat ons doen en oor dade, maar ons glo in redding deur genade aleen en dat ons geregverdig voor Hom staan!

Ef 2:8-9 AFR 2020 Paulus skryf

Want uit genade is julle verlos, deur geloof. En juis dit kom nie uit julle self nie; dit is die gawe van God. Dit kom nie uit eie werke nie, sodat niemand op iets mag roem nie.

Die Bybel praat van 2 Selfbeheersings en hulle is beide ‘n menslikeverantwoordelikheid en ‘n Goddelike gawe.

Vanoggend gaan ons kyk hoe hulle verskil maar ook hoe hulle saamwerk.

1. SELFBEHEERSING AS ‘N DEUG/GOEIE EIENSKAP/VIRTUE

Hierdie selfbeheersing kom uit Menslike Verantwoordelikheid en inspanning

Dit is ‘n karaktertrek wat ontwikkel word deur dissipline, gewoontes en keuses.

2 Petrus 1:5-6 DB

Moenie n enkele oomblik agteroor sit nie. Sorg dat julle geloof in Christus elke dag sterker word. Gaan só te werk:  Span julle in om altyd net die regte dinge te doen.  Saam met hierdie ywer moet julle ook kennis hê. Sorg dat julle die Here goed ken. Saam met kennis gaan selfbeheersing. Moenie toelaat dat sondige begeertes julle ooit onderkry nie. Saam met selfbeheersing gaan standvastigheid. Hou aan glo. Staan sterk! Saam met standvastigheid gaan n lewe wat God verheerlik. Maak God se Naam groot in alles wat julle doen.

1 Kor 9:25 Al die deelnemers pas absolute selfdissipline toe. Húlle doen dit om n prys te wen wat heel gou sal vergaan. Maar óns doen dit vir n ewige prys.

Titus 2:1112 Die genade van God wat verlossing bring, het immers aan alle mense verskyn. Dit voed ons op om die goddelose leefwyse en wêreldse begeerlikhede te laat vaar en met selfbeheersing, opregtheid en godsvrug in die teenswoordige wêreld te lewe,

Enigeen kan n deug/goeie einskap/virtue deur oefening ontwikkel, ongeag hul geestelike oortuigings.

2. SELFBEHEERSING AS VRUG VAN DIE GEES

Hierdie selfbeheersing is n Goddelike Gawe

Dit is ‘n bonatuurlike produk van die Heilige Gees wat in ‘n gelowige woon

Galasiërs 5:22-23 AFR83“Die vrug van die Gees, daarteenoor, is liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing.

2 Timoteus 1:7 AFR83Die Gees wat God ons gegee het, maak ons immers nie lafhartig nie, maar vul ons met krag en liefde en selfbeheersing.

Filippense 2:13 AFR83“want dit is God wat julle gewillig en bekwaam maak om Sy wil uit te voer.

Galasiërs 5:16 Laat julle lewe steeds deur die Gees van God beheers word, dan sal julle nooit swig voor begeertes van julle sondige natuur nie.

Hierdie verse wys dat ware, blywende selfbeheersing ‘n gawe is, wat deur die Heilige Gees se krag gegenereer word.

Hierdie selfbeheersing fokus op:

die eer van God
die weerstaan ​​van sonde en
die weerspieëling van Christus se karakter.
Dit is uniek aan gelowiges wat aktief in pas met die Heilige Gees wandel.

KOM ONS KYK HOE HULLE SAAMWERK

Die Gees bemagtig die deug:

Menslike wilskrag is beperk en knak onder intense versoeking.
Daar is n einde aan jou eie wilskrag

Kolossense 1:29 Sê Paulus

Daarvoor span ek my ook in en beywer ek my met die krag wat Hy (Heilige Gees)gee en wat kragtig in my werk.

Die Bybel stel nie hierdie twee konsepte teen mekaar nie.
Daar is ‘n sinergie tussen die 2 – “goddelike-menslike samewerking.
Die Heilige Gees versterk jou natuurlike vasberadenheid en transformeer ‘n swakmenslike deug in ‘n veerkragtige geestelike verdediging

Daar is n menslike verantwoordelikheid saam met goddelike krag.

Jy verskaf die gewillige gehoorsaamheid en daaglikse poging, terwyl die Gees die onderliggende krag verskaf om dit te onderhou.

Daar is n Binne-na-Buite Transformasie:

Die virtue van selfbeheersing fokus dikwels op die verandering van uiterlike gedrag.
Die Heilige Gees verander jou innerlike begeertes, wat jou laat kies wat reg is, wat outomaties lei tot uiterlike selfbeheersing.

Om te sien hoe dit werk kyk ons na twee karrakters in die Woord:

Simson (Rigters 1416)

Simson het geweldige uiterlike, fisiese krag gehad wat deur die Gees van God gegee is.

Die Probleem: Hy het nie innerlike krag gehad nie. Hy was deur sy impulse, woede en wellus beheer.

Die uiteinde: Omdat hy op sy eie begeertes staatgemaak het en geweier het om selfbeheersing te kweek, het sy verdediging verkrummel (soos die stadsmure in Spreuke 25:28). Hy is uiteindelik verraai, verblind en gevange geneem.

Josef (Genesis 39)

Josef was ‘n jong, n slaaf in Egipte, sy enigste probleem was dat hy jonk en aantreklik was, en Potifar se vrou het dit raak gesien.

Die Oorwinning: Josef het selfbeheersing gehad. Hy het haar daagliks geweier, en toe hy in ‘n hoek vasgekeer is, het hy fisies weggehardloop. (Hy verwyder homself uit die situasie).

Die Geheim is: Josef se selfbeheersing was gewortel in sy verhouding met God.

Hy het gesê: “Hoe kan ek dan hierdie groot kwaad doen en teen God sondig?” (Gen 39:9). Sy menslike poging (weghardloop) het perfek saamgewerk met sy geestelike toewyding.

n Voorbeeld van samewerking en dat die een nie sonder die ander kan werk nie.

Die rem pedaal wat jy trap en die hidroliese en meganiese sisteem wat daarmee saamwerk om die kar te rem.

Daar is n rempedaal EN n remstelsel wat saam moet werk!

God gee vir ons van die remstelsel: daar is ‘n menslike deug wat bonatuurlik deur die Heilige Gees aangedryf word.

SLOT:

Selfbeheersing is beskerming nie beperking nie
Hou op om ‘n geestelike oorlog met ‘n menslike stok te probeer veg.
Selfbeheersing begin met oorgee, nie deur net aan te stoei nie
Selfbeheersing kom deur verhouding.

Selfbeheersing isjy en Heilige Gees!

SEËN:

2 Pet 1: 2 NLV

2Mag die genade en vrede van God steeds meer en meer julle deel wees deurdat julle God en Jesus Christus ons Here regtig ken.

God het julle nuut gemaak; maak dit sigbaar in julle leefstyl

Amen