Boodskap / Preek oor: Gebed – My eerste reaksie of my laaste uitweg?

Gebed – My eerste reaksie of my laaste uitweg?

Inleiding

Ek wonder hoeveel van ons in hierdie vertrek gebed gebruik as ons eerste reaksie, en hoeveel van ons eers bid wanneer niks anders meer werk nie.

Ons probeer eers self plan maak. Ons bel iemand. Ons Google. ’n Boer maak ‘n plan. Ons bekommer ons. En eers wanneer alles misluk, sê ons: “Nou bly daar net gebed oor.”

Maar vir die gelowige behoort gebed nooit die laaste uitweg te wees nie. Dit behoort ons eerste reaksie te wees.

Jesus se voorbeeld van gebed

Gebed was nie ‘n noodplan vir Jesus nie.

Dit was Sy leefwyse.

Voor groot besluite het Hy gebid.

Na besige dae het Hy Hom onttrek om te bid.

Voor die kruis het Hy gebid.

In Getsemane het Hy gewys dat gebed ‘n plek is waar krag gevind word.

As die Seun van God gebed nodig gehad het…

– Hoeveel te meer het ek en jy dit nodig?

Ons leef in ‘n wêreld wat vinniger as ooit tevore beweeg.

Ons word oorlaai met verantwoordelikhede.

Ons gedagtes hardloop aanhoudend.

In Gebed vind ons ’n toevlugsoord by God.

In Gebed is waar ons weer perspektief kry.

In Gebed is waar ons weer krag ontvang.

In Gebed is waar ons weer met ons Hemelse Vader verbind word.

Die transformerende krag wat Jesus in gebed ervaar het, is vandag steeds vir elke gelowige beskikbaar.

Jesus het baie tyd met Vader spandeer.

Hoe meer ons met iemand praat en tyd saam met hulle spandeer, hoe beter leer ons hulle ken. Dieselfde gebeur in ons verhouding met God. Hoe meer tyd ons in gebed met Hom deurbring, hoe nader beweeg ons aan Hom.

Blaai na Jakobus 4:8

“Nader tot God, en Hy sal tot julle nader.” (AFR53)

Dit is nie net ‘n mooi gedagte nie. Dit is ‘n belofte.

Ek het hierdie belofte al in my eie lewe getoets. Wanneer ek doelbewus deurdruk in gebed en in Sy teenwoordigheid bly, gebeur daar iets wat ek nie met woorde kan verklaar nie. God verander nie altyd onmiddellik my omstandighede nie, maar Hy verander my.

Blaai na Filippense 4:5-7

“5 Laat julle vriendelikheid aan alle mense bekend word. Die Here is naby. 6 Moet oor niks bekommerd wees nie, maar maak in alles julle versoeke deur gebed en smeking met danksegging aan God bekend. 7 En die vrede van God, wat alle begrip oortref, sal in Christus Jesus oor julle harte en gedagtes waak.”

Paulus begin met hierdie belangrike waarheid:

1. Die Here is naby

Hoe anders sou ons leef as ons werklik elke dag hiervan bewus was?

Baie van ons leef asof God ver is.

Ons bid soms asof ons probeer om Sy aandag te trek. Maar Paulus herinner ons: God is nie ver nie. Hy is naby.

En juis omdat Hy naby is, hoef ons nie vas te val in bekommernis nie.

Gebed help ons om die lewe deur ‘n hemelse lens te sien.

Dit verander nie altyd wat rondom ons gebeur nie, maar dit verander hoe ons daarna kyk.

Soos ek vroër genoem het – Was daar verskeie oomblikke in my lewe waar ek in gebed deurgedruk het. Ek onthou dit nog – Nie omdat my situasie onmiddellik verander het nie, maar omdat God se teenwoordigheid my gevul het met ‘n vrede wat ek nie kon verduidelik nie.

2. Danksegging is die sleutel

Paulus sê nie net:

“Bid.”

Hy sê:“Maak julle versoeke deur gebed en smeking met danksegging aan God bekend.”

Dankbaarheid verander die manier waarop ons bid.

Dankbaarheid herinner ons aan God se vorige getrouheid terwyl ons Hom vertrou vir toekomstige hulp.

Ons fokus skuif van:

“Here, U móét iets doen…”

na:

“Here, dankie dat U nog altyd getrou was.”

Wanneer ons onthou wat God reeds gedoen het, groei ond geloof vir dit wat Hy nog gaan doen.

3. God gee vrede wat nie logies verklaar kan word nie

Paulus sê:

“Die vrede van God, wat alle begrip oortref…”

Die AFR53 vertaal dit:

“…wat alle verstand te bowe gaan.”

Met ander woorde:

Die vrede wat jy in jou hart beleef, maak nie altyd vir jou kop sin nie.

Jy kyk na jou omstandighede en niks het verander nie.

Die rekening is steeds daar.

Die diagnose is steeds dieselfde.

Die probleem is nog nie opgelos nie.

– Maar in jou hart ervaar jy vrede.

Nie omdat alles reg is nie.

Maar omdat God naby is.

Dit is bonatuurlike vrede.

‘n Vrede wat nie afhanklik is van gunstige omstandighede nie.

Wat gebeur is – God se teenwoordigheid word sterker as jou probleem.

4. God se vrede bewaak ons harte

Paulus gebruik ‘n besonder interessante woord wanneer hy sê dat God se vrede oor ons harte en gedagtes sal “waak.”

(AMP gebruik Garrison) “A garrison is a permanent military installation or fortified post, as well as the body of troops stationed there to defend it. The term can also be used as a verb meaning to assign or station soldiers in a specific location to occupy and protect it.” (Afrikaans Garnisoen)

Hierdie woord is ‘n militêre term.

Dit beskryf soldate wat wag hou by die poorte van ‘n stad.

Met ander woorde:

God se vrede staan wag.

Wanneer angs probeer inkom…

Wanneer vrees probeer oorneem…

Wanneer onsekerheid probeer beheer neem…

Staan God se vrede soos ‘n soldaat wag by die deur van jou hart.

– Nie omdat daar geen probleme is nie.

Maar die Vrede in jou hart is die bewys dat God teenwoordig is.

Wat as die omstandighede nie verander nie?

Ons vra mos vir God om ons situasie te verander.

En soms doen Hy.

Maar wat van die kere wanneer Hy dit nie onmiddellik verander nie?

Dan ontdek ons iets dieper.

Gebed is nie net God se manier om ons omstandighede te verander nie.

– Gebed is God se manier om óns te verander.

Wanneer ek verander, begin ek my omstandighede anders beleef.

Ek leef nie meer vanuit vrees nie.

Ek leef vanuit vrede.

Aanmoediging – Bid gedurig

1 Tessalonisense 5:16-18 sê:

“Wees altyd bly, bid gedurig, wees in alle omstandighede dankbaar, want dit is die wil van God vir julle in Christus Jesus.”

Gebed is nie net iets wat op Sondae gebeur nie.

Dit is ‘n leefstyl.

Dit is ‘n voortdurende gesprek met God.

Nie net wanneer dinge verkeerd loop nie.

Maar ook wanneer dinge goed gaan.

Eks is hier om jou te verseker = Daar is krag in jou gebed

Jakobus 5:16 sê:

“Die gebed van ‘n regverdige is kragtig en doeltreffend.”

Gebed is nie bloot ‘n godsdienstige gewoonte nie.

Dit is ‘n ontmoeting met die lewende God.

Wanneer ons bid, werk God.

Soms verander Hy ons situasie.

Soms verander Hy ons.

Maar Hy laat ons nooit dieselfde wegstap nie.

Slot

Die vraag waarmee ons begin het, is steeds die vraag waarmee ons afsluit:

Is gebed my eerste reaksie of my laaste uitweg?

Mag ons as gelowiges, mense wees wat nie eers bid wanneer alles verkeerd loop nie.

Mag ons gelowiges wees wat leef vanuit voortdurende gemeenskap met God.

Want wanneer ons nader tot God kom, kom Hy nader aan ons.

En wanneer Hy naby is…

word bekommernis verruil vir vrede.

word vrees verruil vir vertroue.

word swakheid verruil vir krag.

Die Here is naby.

Daarom:

Moenie oor enigiets bekommerd wees nie.

Bid.

Vertrou.

Sê dankie.

En laat God se vrede soos ‘n wag oor jou hart en gedagtes staan.